Agri-toerisme of agro-toerisme, soos dit breedweg omskryf word, behels enige landbou gebaseerde bedryf of aktiwiteit wat besoekers na ‘n plaas bring.

Agri-toerisme het verskillende definisies in verskillende dele van die wêreld, en verwys soms na boerdery verblyf.

Agri-toerisme kan ‘n wye verskeidenheid aktiwiteite insluit, byvoorbeeld die aankoop van produkte direk vanaf ‘n plaasstalletjie, ‘n doolhof deur graanlande, die pluk van vrugte, die voer van plaasdiere, of verblyf in ‘n bed en ontbyt op die plaas.

Wat agri-toerisme aanblaas is dat die publiek al hoe meer begin belangstel in hoe die voedsel wat hulle gebruik, geproduseer word. Dus wil hulle die boere/produseerders ontmoet en meer uitvind wat in voedsel produksie gebeur.
Agri-toerisme is dus ‘n kommersiële besigheid op ‘n werkende plaas of landboubedryf wat bestuur word met die oog op die vermaaklikheid van besoekers, wat ook dan ‘n addisionele inkomste vir die boer genereer. ‘n Agri-toerisme besigheid kan gesien word as opvoedkundig (kaasmakery), aktiwiteitgedrewe (fietsry/4×4-roetes/bergklim), ontspanning (visvang/kanovaart) of akkommodasie en kampeer geriewe.

Die platteland word al hoe gewilder as vakansie/wegbreek bestemmings, veral die leef- en werkswyses in die landelike omgewings. Uitstekende geleenthede bestaan op plase om toerisme bedryf te ontwikkel.

Al meer toeriste wag dat boere hulle gebiede en bedrywe ontgin, wat ‘n ryker ervaring vir toeriste aan Suid-Afrika sal meebring, asook die meer doeltreffende benutting van boerdery hulpbronne.

Van die voordele wat agri-toerisme bied, sluit in dat dit entrepreneurskap in soms afgeleë gebiede stimuleer en werk skep vir die plaaslike en wyer gemeenskap.

Hierdie lysie sal jou op die regte pad bring oor die potensiële aantreklikhede wat besoekers gaande sal hê:

  • Fisiese hulpbronne – akkommodasie, swembad
  • Natuurlike hulpbronne – swempoele, interessante staproetes, visvanggeleenthede en wildkyk
  • Klimaat – jou unieke verkoopspunt is dalk die moontlikheid van sneeu in die winter.
  • Eienaar/bestuurder/personeel se sterkpunte – beskik julle oor die nodige kennis en vaardighede
  • Aktiwiteite – kyk hoe jy jou gaste ‘n voorsmakie op die plaaslewe kan gee. Maak hulle miskien deel van oestyd of laat hulle hul eie mielies/vrugte pluk.

Wat dryf die vraag na agri-toerisme? ‘n Paar verskynsels staan uit:

  • Mense wat geld kan bestee, bestee dit deesdae meer op ontspanning, vrye tyd, avontuur en ervarings – presies wat agri-toerisme bied.
  • Die neiging bestaan dat stadsjapies uitwyk na die platteland vir vakansies op soek na ruimte en ‘n ongekompliseerde lewenstyl.
  • Baie mense het ‘n nostalgie na die platteland en wil hul kinders daaraan blootstel.

Belangrike aspekte wat oorweeg moet word om agri-toerisme as bedryfstak te vestig:

  • Bepaal of dit ‘n sake-onderneming of ‘n stokperdjie is – want dan word bestuursinsette verdeel tussen die boerdery en die toerisme-vertakking.
  • Agri-toerisme is nie ‘n kits resep vir welvaart nie.
  • Die publiek het sekere verwagtinge en is dit belangrik om aspekte soos kliëntediens en tevredenheid te verstaan.
  • Bemarking en verskaffing van produkte is regstreeks – boer bemark self, geen middelman.

In ‘n neute dop, doen dus jou huiswerk, vra kundige advies, weeg die voor- en nadele deeglik op, voordat jy jou plaashek oopgooi vir besoekers!